The current state of the rental market
January 20, 2022
Can I claim interim relief pending my divorce suit?
January 24, 2022

Het Afrikaans nog ’n plek in besigheid?

Globalisering is ’n onvermybare nagevolg van ’n tegnologiese-gedrewe wêreld waar die beperkings van tyd en plek minder en minder begin saak maak. Dit wil voorkom dat die wêreldwye Covid-19 pandemie verdere globalisering tot gevolg gehad het weens die internasionale inspanning om die virus finaal te oorwin. Tussendeur die globalisering, het Afrikaans nog ’n plek in besigheid, of is dit tyd dat ons die tou ingooi vir Afrikaans as besigheidstaal?

Kom ons oorweeg eers vir ’n oomblik wat die stand van sake is vir Afrikaans

  • Daar is ongeveer sewemiljoen Afrikaans eerstetaal-sprekers in Suid-Afrika: Dit is om en by 13% van die totale bevolking van Suid-Afrika en hierdie getalle is steeds besig om te groei, wat beteken dat (in terme van eerstetaal-sprekers) Afrikaans meer en meer relevant raak in Suid-Afrika.
  • Afrikaans is besig om te groei: Die idee dat Afrikaans ’n ‘sterwende’ taal is is al op menigte geleenthede verkeerd bewys. Inteendeel, onlangse sensusse bepaal dat die aantal Afrikaanssprekendes aanhoudend groei in elke provinsie van ons land.
  • Afrikaans is nie net ’n taal van blanke Suid-Afrikaners nie: Ten spyte van die feit dat Afrikaans ’n prominente regstaal was tydens die Apartheidsjare, is dit verkeerd om Afrikaans te sien as ’n taal wat meestal deur wit Suid-Afrikaners gepraat word. Inteendeel, 5.5 miljoen Suid-Afrikaanse Afrikaans eerstetaal-sprekers is nie-blankes (wat omtrent 78.5% van die geheel opmaak).
  • Afrikaans is ’n internasionale taal: Buite Suid-Afrika word Afrikaans deur ’n verdere 300 000+ mense gepraat, waarvan die oorhoofse meerderheid in Namibië is met noemenswaardige verteenwoordiging in Australië, Nieu-Seeland, Kanada, en die VSA.
  • Afrikaans is geanker in geskiedenis: Met die ontwikkeling van Afrikaans as taal oor die laaste paar eeue, het dit ’n baie gedetailleerde geskiedenis. En as die jongste taal ter wêreld wat erkenning geniet op ’n nasionale vlak, is daar baie mense wat ’n sterk passie het vir die taal.
  • Met die bogenoemde feite in ag geneem is dit duidelik dat Afrikaans nie irrelevant is nie. Tog moet besigheidseienaars hul konteks in ag neem voor hulle besluit om in Afrikaans handel te dryf of nie.

Voordele van besigheid in Afrikaans doen

  • ’n Ruimte word aan kliënte gebied om te kommunikeer in ’n taal waarmee hulle gemaklik is: In groot dele van die land is die konsentrasie van Afrikaanssprekendes hoër as Engels-, Xhosa-, of Zulusprekendes, wat beteken dat om slegs in Engels handel te dryf meer mense uitsluit as wat dit insluit. In dié manier is dit ook moontlik om toegang te verkry tot ’n markaandeel wat jou mededinger dalk nie bereik nie.
  • In sekere industrieë/liggings baat dit besigheidseienaars om in Afrikaans besigheid te doen: Byvoorbeeld, in die Noord-Kaapse landboubedryf gaan grootskaalse Engelse kommunikasie en jargon moontlik meer skade as goed doen. Dus sal Afrikaanse dokumente, kontrakte, regstaal, webtuistes en kommunikasie meer toeganklik wees. Om internasionaal in Afrikaans besigheid te doen kan ook spesifieke nismarkte ontsluit (tog moet deeglike navorsing eers voltooi word voor só ’n besluit gemaak kan word).

Terwyl dit baie besighede kan baat om besigheid in Afrikaans te doen is dit in min gevalle die beste uitweg om slégs in Afrikaans besigheid te doen. Engels bly steeds die mees-gebruikte besigheidstaal ter wêreld en dus sal dit voordelig wees vir alle besigheidseienaars om ten minste een werknemer aan te stel wat goeie Engelse skryf-, lees- en kommunikasievaardighede besit.

Hoe jy Afrikaans gebruik as ’n besigheidstaal gaan streng afhang van jou unieke konteks en die kliënte/klante aan wie jy dienste of produkte verskaf. Daarvolgens moet jy bepaal of jy dienskontrakte, besigheidsooreenkomste, kommunikasie ens. in Afrikaans beskikbaar gaan maak vir dié waarmee jy besigheid doen.

Gesels met jou prokureur oor die voordele wat Afrikaanse dokumente, kontrakte, en ooreenkomste vir jou kan bied as besigheidseienaar.

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn regsadviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X